Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 14 JANUARIE 2007

U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel of na www.zs6mrk.org te gaan en die daar aangeduide skakels te volg. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 14,235, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoria gebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).

STIL SLEUTELS

Met innige leedwese kondig ons die afsterwe aan van Eddie Prins, ZS6LR, in die ouderdom van 96 jaar. Hy is op 23 Desember 2006 in sy slaap oorlede.. Aan sy kinders, kleinkinders, ander familie en vriende betuig ons, ons innige meegevoel.

John Gandy, ZS4JC, voorheen ZS5JC, is onlangs na 'n lang siekbed oorlede. Aan sy eggenote, ander familie en vriende ook ons innige meegevoel.

(POUSE)

In die nuus vandag:

REGISTREER NOU EKSAMENSENTRA VIR DIE KLAS B ZU-LISENSIE

VOLGENDE INTEGNET ONDERSOEK WAAR WEERLIG DIE MEESTE TREF

WRC-07, STREEK 2 KONFERENSIE LAAT KLEM VAL OP IARU SE NUWE JAAR

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.

REGISTREER NOU EKSAMENSENTRA VIR DIE KLAS B ZU-LISENSIE

Die eerste datum waarop in 2007 'n eksamen vir die Klas B of ZU-lisensie afgelê gaan word, is 1 Maart. Indien u 'n eksamensentrum in u gebied beskikbaar stel, moet u dit asb. so gou as moontlik registreer. Registrasievorms is vanaf www.sarl.org.za verkrygbaar. Tans is slegs een eksamensentrum nl. Middelburg in Mpumalanga geregistreer.

Kandidate wat met hierdie eerste geleentheid die eksamen wil aflê, het tot die einde van hierdie maand tyd om te registreer.

Eksamendatums vir ZS- en ZR-lisensies is 17 Mei en 18 Oktober met sluitingsdatums 12 April en 13 September respektiewelik.

SANDTONKLUB BEREI VOOR VIR VANJAAR SE RAE's

Die Sandton Amateuramateurradioklub maak gereed vir die volgende RAE. Die klub begin met die aanbieding van lesings op Woensdag 7 Februarie om 19:00 in die NARS. Lesings sal elke Woensdagaand vanaf 17:00 tot 21:00 aangebied word, en sal aanhou tot voor die eksamen op 17 Mei. Die lesings ter voorbereiding vir die tweede eksamen sal op 11 Julie begin. Kontak Mark Zank, ZS6YES, by 083 367 8943 vir meer besonderhede.

Die SARL berei 'n mediaveldtog voor waarin geadverteer gaan word waar en wanneer lesings aangebied gaan word. Klubs word versoek om dringend inligting in hierdie verband aan armi@sarl.org.za te e-pos sodat hulle inligting in die mediaveldtog ingesluit en op die SARL se webwerf geplaas kan word. Gee asb. sonder versuim u aandag aan hierdie saak.

VOLGENDE INTEGNET ONDERSOEK WAAR WEERLIG DIE MEESTE TREF

Tracey Gill van die Suid-Afrikanse Weerdiens sal die gasspreker wees tydens die eerste Integnet op 28 Januarie vanjaar. Die SA-Weerdiens beskik oor 'n weerligmoniteringstelsel en bied 'n omvattende waarnemingsdiens aan. Teken die datum 28 Januarie aan. Integnet sal om 20:00 'n aanvang neem en sal deur die Presidentsnet om 19:00 voorafgegaan word.

WRC-07, STREEK 2 KONFERENSIE LAAT KLEM VAL OP IARU SE NUWE JAAR

Die IARU se aktiwiteitskalender word gedomineer deur die voortgaande voorbereidings vir die 2007 Wêreldradiokommunikasiekonferensie (WRC-07) van die Internasionale Telekommunikasieunie (ITU) met 'n hoogtepunt self in die WRC in Geneve vanaf 22 Oktober tot 16 November.

Die volgende belangrike gebeurtenis, met wêreldwye deelname, met betrekking tot die WRC is die voorbereidende vergadering tot die konferensie {Conference Preparatory Meeting (CPM)} in Geneve, van 19 Februarie tot 2 Maart. Die CPM sal die tegniese verslag finaliseer wat leiding sal verskaf vir die afgevaardigdes se werk.

Die CPM-verslag, waarvan die opstelling verskeie van die werkgroepe van die ITU se Radiokommunikasiesektor vir die afgelope drie jaar besig gehou het, gee agtergrondinligting oor elke WRC-agenda-item, verskeie metodes om die item te benader en die voordele sowel as die nadele van elk. Die insluiting of uitsluiting van enkele woorde in die konsep CPM-verslag was die onderwerp van geesdriftige debat, wat ongetwyfeld in die CPM voortgesit sal word.

Die IARU sal by die CPM verteenwoordig word deur President Larry Price, W4RA, en Tegniese Verteenwoordiger Ken Pulfer, VE3PU. Ander amateurradioverteenwoordigers sal lede van nasionale verteenwoordigings wees.

Addisioneel gaan streeks- en nasionale voorbereidende vergaderings vir WRC-07 steeds voort. Die drie streeksorganisasies van die IARU is verantwoordelik vir deelname aan die werk van die streekskommunikasieorganisasies, insluitende, maar nie beperk tot, CEPT (Europa), ATU (Afrika), CITEL (die Amerikas), en APT (Asië-Stille Oseaan). Huishoudelike voorbereidings is die verantwoordelikheid van die IARU-ledeverenigings in die respektiewelike lande.

Die agenda-items van besondere belang vir amateurdienste sluit toekennings in die 4 - 10 MHz gedeelte in, 'n moontlike sekondêre toekenning aan die amateurdiens by 136 kHz, die wysiging van voetnotas by die tabel van frekwensietoekennings en die uitsoek van agenda-items vir toekomstige WRC's, die volgende waarvan voorlopig vir 2011 beplan word.

'n Ander belangrike gebeurtenis vir die IARU in 2007 is die driejaarlikse konferensie van die IARU Streek 2 in Brasilië gedurende 9 tot 14 September. Die 16de Algemene Vergadering van IARU Streek 2 sal verteenwoordigers van die IARU-ledeverenigings van dwarsdeur die Amerikas byeenbring om sake van gemeenskaplike belang te bespreek en om ampsdraers vir die volgende drie jaar te verkies.

PEARS NASIONALE BHF/UHF-KOMPETISIE

Die PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie sal vanaf 18:00 SAT op Vrydag 19 Januarie tot 18:00 SAT op Sondag 21 Januarie, dit is oor volgende naweek, plaasvind. Hierdie kompetisie is oop vir alle amateurs in die RSA en buurlande. Hierdie 48-uur kompetisie is in twee gelyke sessies van 24 elk verdeel. Dit beteken dat elke stasie eenkeer per sessie gekontak mag word en dus die aktiwiteit sal verhoog. Let asb. daarop dat die totale puntetelling op elke respektiewe band met die aantal ruitverwysings in daardie band gewerk vermenigvuldig moet word. Alle stasies mag al die ander stasies uitdaag vir die langste afstandtoekenning op die bande toegelaat vir hulle kategorieë. Sterkte vir die kompetisie, en geniet dit!

Aktiwiteit is op 6, 4 en 2 meter sowel as op 70 en 23 cm deur gebruik van spraak-, GG- en ander digitale modusse. Die reëls is beskikbaar op die Port Elizabeth ARV se webtuiste www.zs2pe.co.za sowel as die SARL se Kompetisiehandboek.

HUNTING LIONS IN THE AIR

SARLNuus is ingelig dat daar vanjaar geen offisiële aktiwiteite rondom Hunting Lions In the Air sal plaasvind nie aangesien niemand bereid is om die gebeurtenis offisieël aan te bied nie. Nogtans, indien enige amateurs of Lionklubs op die lug wil gaan, sal dit alleenlik 'n sosiale gebeurtenis wees.

DXCC AMATEURATLAS

Darek, SP6NVK, het 'n webtuiste www.hamatlas.eu na vier jaar se harde werk op die been gebring en nooi u uit om dit te besoek en hy vertrou dat u die inligting wat daar beskikbaar is nuttig sal vind.

Die webtuiste bevat die volledige inligting oor al die 337 DXCC-entiteite, meer as 3 000 fotos en ook meer as 1 000 kaarte.

VOORPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld wissel van stil tot lae stormvlakke gedurende 16 tot 19 Januarie. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 15 wees.

20 m en 40 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m openinge vanaf 07:00 SAT en weer om 14:00 na die Ooste. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike kort 15 en 20 m openinge na Europa. Vanaf 18:00 is daar moontlike 15, 20 en 80 m openinge na die Verenigde State. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste kan dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

19/21 Januarie 2007 - PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie;
27 Januarie 2007 - Magalies Vlooimark;
28 Januarie - Presidentsnet en Integnet;
31 Januarie - Laaste dag vir inskrywings vir die ZU-lisensie RAE;
3 Februarie 2007 - ERB Vlooimark;
16 Februarie 2007 - Sluitingsdatum vir nominasies vir Tinus Lange 7066 Tegniese Uitmuntendheidstoekennings;
1 Maart 2007 ZU-lisensie-eksamen;
14 April 2007 - SARL-AJV.

Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.

Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel en vertaal is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003